Ross wen derde titel met langste afstand nóg; Verwey stel nuwe vrourekord

Ultrawedlope
Van die voorste ysters in Namibiese uithousport het opnuut die gedugte uitdaging getakel,
Tielman Van Lill
Die Rand Merchant Bank 2024 Brandberg Backyard Ultra-wedloop naby Uis is Sondagoggend ná ‘n uitmergelende 24 uur vir die derde keer deur André Ross gewen.
Ross, lid van Swakop Striders hardloopklub en verdedigende kampioen van 2023, het 22 baanrondtes van 6.706 kilometer vir ‘n totaal van 147.53 km voltooi.
Die 51-jarige Swakopmunder het ook die eerste byeenkoms in 2022 en daarna die 2023 kompetisie ingepalm.
Hy het vanjaar aansienlik op sy prestasie van 2023 verbeter. Ross het verlede jaar 18 rondtes van 6.706 km vir ‘n totale afstand van 120.71 km kafgedraf.
Corné Verwey, wat die vroue-afdeling vir die eerste keer ingepalm het, het die nuwe roeterekord vir vroue met 16 rondtes agter haar naam aangeteken. Kirsty Brits was die vorige rekordhouer met 13 rondtes wat sy verlede jaar opgestel het. Brits het in 2022 en 2023 die moordende wedloop gewen.
Die ultra-byeenkoms het Saterdagoggend om agtuur weggespring en het dus deur die nagtelike ure voortgeduur.
Hardlopers moes aan die begin van elke nuwe uur gereed wees om ‘n baanrondte van 6.706 km aan te pak en binne 60 minute te voltooi, vir so lank as wat hulle kon aanhou. Sodra ‘n hardloper nie ‘n baanrondte binne die gegewe tyd kon voltooi nie, of die wegspringtyd vir die volgende rondte misgeloop het, het hul deelname geëindig.
Die laaste hardloper wat ‘n volle baanrondte voltooi, is die wenner en die resies eindig eers dan.
Die Windhoeker PC Visser het vir Ross die hardste gedruk totdat hy kort ná die begin van sy 22ste baanrondte die stryd gewonne gegee het, ná meer as 140.8 km.
Erich Goeieman was algeheel derde, met 18 voltooide rondtes, met Johan Bronkhorst ook in die topvier.
Van die voorste ysters in Namibiese uithousport het vanjaar opnuut die derde weergawe van hierdie gedugte uitdaging getakel, asook verskeie nuwelinge wat hul stamina op die proef wou stel.