Ruimte druk St. Joseph hard in sonebyeenkoms

Atletiek
Die aantal deelnemende skole (12) was die meeste nóg.
Boet Matthews
Die atletiekbyeenkoms vir laerskole in die Akasia-sone het Saterdag by die St. Joseph sportveld op Rehoboth afgehandel. Twaalf skole het sake uitgespook in die jaarlikse kompetisie waar die room van die Rehoboth-omgewing se laerskoolseuns en -meisies mekaar die stryd aangesê het.
Die aantal deelnemende spanne was na verneem word die meeste wat nóg gesien is. Verlede jaar het St. Joseph, die Katolieke skool op Rehoboth, met die louere weggestap.
Aan die einde van twee dae se puik vertonings deur verskeie atlete was die borg, FNB Namibia, baie tevrede. FNB se bestuurder Jonathan Coakley het gesê byeenkomste soos hierdie bring mense bymekaar waar ons met dissipline en spanwerk mekaar aan die hand kan vat.
Coakley het bygevoeg: “Ewe belangrik is dat sulke byeenkomste nuwe talent help identifieer wat later op ‘n hoër vlak kan deelneem. By FNB glo ons in die krag van die gemeenskap, die ondersteuning en om mededeelsaam te wees om sukses te behaal. Of jy meeding, of van die kantlyn af ondersteun, jou teenwoordigheid versterk ons samewerking.
Die atletiek op Rehoboth was spannend en skouspelagtig. Die verdedigende kampioenskool, St. Joseph, het opnuut sy potensiaal onderstreep en met ‘n vyfster vertoning in die boonste posisie geëindig met 243 punte, gevolg deur die gasheerskool Ruimte (181).
Tot in ‘n laat stadium op die tweede dag van kompetisie was Ruimte nog stewig in die saal, maar tydens die aflosse het St. Joseph die punte ingesamel om met die louere weg te stap. Dit was atletiek op sy beste en die honderde toeskouers het luide applous gelewer.
In die derde posisie was Origo (178), gevolg deur Laerskool Rehoboth (125), Oanob, (108), JTL Beukes (54), Usib Primêre Skool (52), Vooruitsig (25), Springvale (13), Acacia Primêre Skool (2), Groendraai Cluster (0) en Petrus Vries (0).
Die skoolhoof van Ruimte, Christel Diergaardt, is tevrede met die uitslae en met die goeie organisering en samewerking. Sy glo sake kan in die toekoms net beter verloop en het St. Joseph gelukgewens met ‘n welverdiende oorwinning.
“Dit was ‘n riem onder die hart om kinders, ouers en onderwysers te sien saamwerk om atletiek as een van die groot sportsoorte in ons land te ontwikkel. Ons span het ampertjies die skaal in ons guns geswaai; dit was net-net dat ons aan die verloorkant moes eindig.”
Een van die wenskool se onderwysers, Rachart Mostert, sê: “Die toewyding van onderwysers en ons passie vir sport het gesorg dat ons skool ons titel suksesvol verdedig. Ons is dankbaar dat geen beserings opgedoen is nie die en kinders het gedoen soos van hulle verwag is. Die klomp het ons eintlik verbaas.”