Sege met 38-5 teen Burkina Faso

Rugby
Andrew Poolman
Hoewel stadig uit die blokke, het afrigter Allister Coetzee se span hul veldtog by die Rugby Afrika-bekertoernooi in Kampala, Uganda, aan die gang gekry.
Drieë in die eerste helfte deur regtervleuel Quirione Majiedt en heelagter Jay-Cee Nel (rustyd 14-0) is opgevolg met nog vyfpunters vir Majiedt, agtsteman Adriaan Booysen, die plaasvervangerhaker Wikus Jacobs en flank Peter Diergaardt.
Suksesvolle doelskoppe is oorgeskop deur Denzo Bruwer (2) in sy toetsdebuut as losskakel en die senter en toerkaptein Danco Burger (2), wat later na die 10-posisie geskuif het toe die reserwebank opgestuur is.
Die skrumskakel Jacques Theron is as speler van die wedstryd aangewys.
Die nuwe Namibiese kombinasie het baie geleidelik momentum opgebou kry ná 'n baie trae begin. Twee strafskoppe deur Bruwer was mis en hul eerste punte is met Majiedt se onderskepdrie ná 37 minute aangeteken.
Namibië se volgende wedstryd is Woensdag teen Zimbabwe, wat rustyd met 22-0 teen die gasheer Uganda voorgeloop het voor hulle net-net met 22-20 gewen het.
Kenia het ook sy spiere gebult met ‘n oorwinning van 36-17 teen Senegal (rustyd 19-20).
Algerië, die verrassingpakket wat by die vorige 2022-toernooi die bronsmedalje voor Zimbabwe weggeraap het en vir Kenia in die semifinaal hel gegee het (33-36), het Saterdag met ‘n sege van 32-12 teen Ivoorkus weggespring (rustyd 16-12).
Woensdag se wedstryde (afskop in Namibiese tyd): Senegal tn Ivoorkus (09:00); Burkina Faso tn Uganda (11:00); Kenia tn Algerië (13:00); Namibië tn Zimbabwe (15:00).