Semifinaliste mik na sukses in T20 Desert Ice Challenge

Krieket
Die Mambas kan pik, dalk moet die Zebras sluk, sal die Kings regeer of is Gobabis die regte meneer?
Tielman Van Lill
Die Nedbank T20 Desert Ice Cricket Challenge-reeks bereik die naweek sy hoogtepunt wanneer môre twee semifinale en die eindstryd Sondag by Affiespark in Pionierspark beslis word.
Môre om 09:00 stap die Green Mambas en Southern Kings vir die eerste semifinaal op die veld.
Om 14:00 kry die Unam Zebras en Gobabis in die tweede semifinaal kans om te bepaal wie die volgende dag in die eindstryd sal speel.
Die eerste bal van die kompetisie is op 5 Mei tussen die Green Mambas en Okahandja by Affiespark geboul. ‘n Totaal van 31 T20-wedstryde is by die velde van Unam, Affiespark, Gobabis, Tsumeb en Swakopmund gespeel.
Die Green Mambas, Okahandja, Gobabis, Run Whisperers Predator Nation, Run Whisperers Southern Kings, CCD, Unam Zebras en Tsumeb Gimnasium het in die kompetisie kragte gemeet en in die proses blootstelling aan nagenoeg 120 spelers gegee.
Gerekende premierliga- en selfs nasionale spelers soos JJ Smit en JC Balt het reeds in die eerste weergawe van die spesiale winterkrieketreeks hul verskyning gemaak.
Die reeks se hoofborg Nedbank het die konsep met N$50 000 ondersteun. Volgens aanvanklike beplanning sou komende naweek se uitklopwedstryde op Walvisbaai aangebied gewees het, voor dit na die hoofstad verskuif is.
[email protected]