Skotland soek eerste sukses teen Eagles

Krieket
Die potensiële wedstrydwenners aan beide kante sal op volle silinders loop by die T20-Wêreldbeker.
Tielman Van Lill
Namibië se Richelieu Eagles sal Skotland op 6 Junie by die Kensington-ovaal in Barbados vir hul tweede wedstryd by die T20-krieketwêreldbeker in Wes-Indië uitdaag.
Hopelik sal die Namibiërs dan stert in die lug op die veld stap nadat hulle Oman drie dae tevore in hul eerste T20i-kragmeting gebêre het.
Tussen Oman en Skotland, is die Skotte bes moontlik Namibië se strafste assosiaat-teenstander in Groep B.
Indien Namibië vir Oman en Skotland in hul eerste twee groepwedstryde kan oorheers, sal die Eagles met selfvertroue teen Australië in Antigua en Barbuda by die Sir Vivian Richards-stadion op die veld stap.
Australië en Engeland sal dan reeds teen mekaar gespeel het. Engeland se eerste botsing is teen Skotland in Barbados, terwyl Australië sy eerste ontmoeting teen Oman maak.
Skotland het Namibië ná drie probeerslae nog nie in ‘n internasionale T20 geklop nie. Maar die gewraakte opskiet van die munt sal beslis sy rol in die Karibiese eilande speel.
Michael Jones en Brad Wheal maak hul terugkeer tot die Skotland-span nadat hulle nie in die onlangse T20i-reeks teen Ierland en Nederland in aksie was nie. Die paaltjiewagter Charlie Tear is ten koste van die naatbouler Gavin Main ingesluit.
Die ervaring van Josh Davey, die veteraan naatbouler van drie T20-Wêreldbekers vir Skotland in 2016, 2021 en 2022, sal beslis gemis word.
Doug Watson is in Maart verlede jaar as hoofafrigter van Skotland aangestel. Hy was van 2012 tot 2015 die afrigter van Namibië, tussen die eras van Johan Rudolph (Oktober 2007 tot Augustus 2012) en wyle Dee Thakur.
Watson sê om die beste Skotland-groep saam te stel, was moeilik, maar die keurders het dit reggekry om balans in die groep te verseker.
Skotland sal steun op Richie Berrington, hul kaptein, asook George Munsey, Michael Jones, Matthew Cross, Charlie Tear en Michael Leask om die telbord aan die rol te hou.
Die naatbouler Safyaan Sharif en draaibalbouler Mark Watt sal leiding in die boulaanval gee. Die naatboulers Jack Jarvis (21) en Bradley Currie is betreklik onervare met net elf T20i-wedstryde tussen hulle. Die duo kan wel ‘n deurslaggewende rol op die vinnige blaaie in Wes-Indië speel.
Die naatbouler, Brandon McMullen, het wel net een T20i-paaltjie agter sy naam, maar sy ervaring op ODI-vlak sal hom goed te pas kom.
Wat in die Skotte se guns tel is dat hul boulers minder lopies afstaan om paaltjies te neem as wat sy kolwers aanteken. Hul kolwers het 6 942 lopies in 496 wedstryde aangeteken, terwyl die boulers 6 133 lopies afgestaan het om 269 paaltjies te laat kantel.
Die Skotse kolwers handhaaf ‘n uitstekende treftempo van meer as 131 persent lopies per bal.

Statistieke
Wedstryde 496. 6 942 lopies van 5 293 balle in 363 kolfbeurte teen 19.12 lopies per kolfbeurt en ‘n treftempo van 131.15 persent per bal.
269 paaltjies vir 6 133 lopies in 779 boulbeurte, ekonomie 7.87 lopies per boulbeurt. Die Skotse boulers staan gemiddeld 22.79 lopies af om ‘n paaltjie te neem.

Skotland se spelersgroep:
Kaptein, Richie Berrington (87 T20i-wedstryde, 2 040 lopies, kolftempo 132.2 persent; 28 paaltjies, ekon 7.64 ).
George Munsey (65 wedstryde, 1 798 lopies, 143%).
Michael Jones (4 wedstryde, 110 lopies, 139%).
Matthew Cross (67 wedstryde, 1 082 lopies, 114%).
Charlie Tear (2 wedstryde, 32 lopies, 84%).
Michael Leask (57 wedstryde, 613 lopies, 129%; 38 paaltjies, ekon 7.77).
Ollie Hairs (22 wedstryde, 392 lopies, 189%).
Chris Greaves (22 wedstryde, 235 lopies, 110%; 13 paaltjies, ekon 7.77).
Brandon McMullen (9 wedstryde, 223 lopies, 143%).
Jack Jarvis (3 wedstryde, 45 lopies, 85%; 7/68 in 11, ekon 6.18).
Safyaan Sharif (65 wedstryde, 175 lopies, 113%; 72/1 751 in 218, ekon 8.02).
Mark Watt (60 wedstryde, 178 lopies, 118%; 72 paaltjies, ekon 6.84).
Bradley Currie (8 wedstryde, 8 lopies, 53%; 16 paaltjies, ekon 4.46).
Brad Wheal (17 wedstryde, 5 lopies, 62.5%; 17 paaltjies, ekon 8.2).
Chris Sole (8, 6 lopies, 200%), (5/293 in 30, ekon 9.76).

Eagles drie, Skotland nul
Die twee nasies se drie vorige T20i-ontmoetings is almal deur Namibië gewen.
• 22 Oktober 2019 in Dubai – T20 WB-kwalifisering
Namibië (159/6) klop Skotland (135/8) met 24 lopies. Speler van die wedstryd: JJ Smit 43 van 22 balle (1x4 4x6) en 1/31.
• 9 Oktober 2021 in Dubai – Namibië toer in VAE.
Namibië (138/5) klop Skotland (137/8) met vyf paaltjies ,et 14 balle oor. Speler van die wedstryd: Craig Williams 50 van 37 balle, 4 2x6).
• 27 Oktober 2021 in Abu Dhabi – T20 Wêreldbeker
Namibië (115/6) klop Skotland (109/8) met vier paaltjies. Speler van die wedstryd: Ruben Trumpelmann 3/17, met drie paaltjies binne die eerste boulbeurt. JJ Smit behaal 32* van 23 balle (2x4 2x6).
[email protected]