So staan sake in o.19 premierliga

Skolerugby
Andrew Poolman
Nadat drie uit die vier geskeduleerde skolerugbywedstryde vir die naweek in die Standard Bank onder-19 premierliga afgehandel is, het Samsung WHS en King Price Windhoek Gimnasium as die onoorwonne spanne boaan die puntelys gebly met 52 ligapunte elk ná ses wedstryde.
WHS se tuiswedstryd moes noodgedwonge gekanselleer word toe Compack Tsumeb Gimnasium onttrek en punte oorgegee het weens ‘n griepuitbreking op die noordedorp wat meer as tien van hul spelers buite rekening gelaat het.
Die administratiewe uiteinde is die toekenning van die volle nege ligawedstryde aan WHS. Geen oop naweke is meer beskikbaar om die wedstryd dalk te kon uitstel nie. Tsumeb is na dese steeds vierde, maar sy sewe wedstryde is afgehandel en sy 36 ligapunte sal feitlik vir seker deur Moria (35) en/of WBPS (31) in hul deurslaggewende laaste wedstryd teen mekaar komende Saterdag verbygesteek word.
Tsumeb Gim se afrigter Wouter Niehaus sê: “Dis ‘n jammerte; ons het nog nie een wedstryd vanjaar met ‘n volsterkte span gespeel nie, want eers was daar twee ernstige beserings wat my heelagter en skrumskakel vir ses weke uit gehad het en toe tref die griep ons toe hulle terugkom.
“Ongelukkig is dit nogal my Namibiese o.18- en Napso-spelers sonder wie ons nou al vir twee weke sit en wat steeds uit is (stut Jurick van den Berg, agtsteman Russel Bartlett en slotte Willem Nel en Jean Devenish). Ons het vir geen agttal teruggestaan in die eerste deel van die seisoen nie, maar nou lyk dinge heelwat anders ná die afgelope twee weke.”
• Op Outjo het OK Moria hom verbete teëgesit, maar Windhoek Gimnasium het uiteindelik te veel skietgoed gehad en het met 27-8 gewen.
Driedrukkers wat die volle nege ligapunte vir die Windhoekers help verseker het, was heelagter Carlo Hawanga, senter Janré van Zyl (2), stut Daniël du Toit en haker Jayvin du Plessis. Net een doelskop deur Waldré Kotze was oor.
Vir Moria het stut Johan Gabrielsen ‘n drie gedruk en senter Bertus Narib het met ‘n strafdoel geslaag.
• PSG Walvisbaai Privaatskool het sy tuiswedstryd teen Autohaus Windhoek Affies met 25-15 gewen.
Vir die wenspan het heelagter Antua Klein ‘n drie gedruk en was ook met twee doelskoppe en twee strafdoele in die kol. Sy spanmaats Adriaan Boonzaaier (losskakel) en Theuns Alberts (senter) het ook drieë gaan druk.
“Dit was ‘n baie harde wedstryd en altwee spanne het goeie rugby gespeel. Ons het ‘n paar beserings opgedoen en ons hoop almal sal reg wees vir die laaste ligawedstryd volgende week wat bepaal wie vierde op die puntelys sal eindig,” sê WBPS se afrigter Morné Rust.
• Op Swakopmund het PSG Pro-Ed Akademie sy derde posisie versterk deur met 48-17 teen Privaatskool Elnatan te wen.