Teleurgestelde Eagles op vlug huis toe

Krieket
Op grond van die hoë verwagting sal die Eagles nie heeltemal tevrede met hul toernooi wees nie.
Tielman Van Lill
Namibië se Richelieu Eagles word vandag terug in Windhoek verwag van die 2024 T20-Wêreldbeker in Wes-Indië waar hulle nie dieselfde hoogtes as in die vorige twee toernooie bereik het nie.
By die 2021 T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate het Namibië op uitmuntende wyse tot die Super 8-fase gevorder. Met die 2022 weergawe in Nieu-Seeland het hulle op ‘n haarbreedte na nie die Super 8 gehaal nie, maar hulle het wel vir Sri Lanka met ‘n oortuigende sege geklop.
Vanjaar kon die Eagles teen alle verwagtinge net een sege in Groep B teen Oman bewerkstellig toe die wedstryd ná 20 boulbeurte gelykop geëindig het. David Wiese en Gerhard Erasmus het toe tydens die superboulbeurt die kragmeting in Namibië se guns geswaai en twee punte verdien.
Met Australië en Engeland in dieselfde groep, was die enigste ander realistiese teiken Skotland, wat as ‘n krieketland met ICC assosiaatstatus ook in Namibië se portuurgroep is.
Ongelukkig het die Skotte dit reggekry om op die deurslaggewende tydstip ‘n versnelling in hul kolfbeurt te bewerkstellig en sodoende hul uitstappie teen die Eagles gemaklik met vyf paaltjies in te palm. Daarna was die res van die wêreldbeker geskiedenis, want net gedugte Aussies en verdedigende titelhouer Engeland was oor in Groep B om teen te speel.
Die uittrede van David Wiese (39) kan ook ‘n betekenisvolle terugslag vir die Namibiese aanslag op wêreldtoernooie wees, ondanks die Eagles se oorvloed van veelsydige talent.

Op die keper beskou
Hoe het Namibië gemeet teen die ander agt assosiaatlande gevaar?
Die VSA het teen alle verwagting die Super 8-fase gehaal, met onder meer ‘n sensasionele oorwinning teen Pakistan, en is die enigste oorblywende van die nege assosiaatlande.
Skotland kan hulself bitter ongelukkig ag dat hulle nie tot die Super 8 kon vorder nie, terwyl die Amerikaners wel die pyp gerook het.
Plasings is ná die groepwedstryde na aanleiding van die spanne se aantal punte, wedstryde uit vier gewen en netto lopietempo gedoen. Spanne het elk een punt gekry vir onbesliste uitslae, waar wedstryde weens reën nie gespeel is nie.

1 Skotland (5 punte, 2 seges, netto lopietempo 1.255).
2 VSA (5 p, 2, netto 0.127).
3 Kanada (3 p, 1, netto -0.493).
4 Nederland (2 p, 1, netto -1.358).
5 Namibië (2 p, 1, netto -2.585).
6 Uganda (2 p, 1 netto -4.510).
7 Nepal (1 p, 0, netto -0.542).
8 Papoea-Nieu-Guinee (0 p, 0, netto -1.268).
9 Oman (0 p, 0, netto -3.062).
Hoewel Namibië tans steeds in die 14de posisie op die Internasionale Krieketraad se T20-ranglys is, het Nederland (15de), die VSA (17de) en Kanada (23ste) aansienlik beter gevaar.
Die VSA, Kanada en Nederland se T20-ranglysposisies behoort binnekort ‘n aansienlike hupstoot te ondervind.

So het die 20 spanne in die groepfase gevaar (*spanne wat gekwalifiseer het vir die Super 8-fase wat vandag begin):
1 *Wes-Indië (8 punte, 4 gewen, netto 3.257).
2 *Australië (8 p, 4, netto 2.791).
3 *Suid-Afrika (8 p, 4, netto 0.470).
4 *Indië (7 p, 3, netto 1.137).
5 *Afghanistan (6 p, 3, netto 1.835).
6 *Bangladesj (6 p, 3, netto 0.616).
7 *Engeland (5 p, 2, netto 3.611).
8 Skotland (5 p, 2, netto 1.255).
9 *VSA (5 p, 2, netto 0.127).
10 Pakistan (4 p, 2, netto 0.294).
11 Nieu-Seeland (4 p, 2, netto 0.415).
12 Sri Lanka (3 p, 1, netto 0.863).
13 Kanada (3 p, 1, netto -0.493).
14 Nederland (2 p, 1, netto -1.358).
15 Namibië (2 p, 1, netto -2.585).
16 Uganda (2 p, 1 netto -4.510).
17 Nepal (1 p, 0, netto -0.542).
18 Ierland (1, 0, netto -1.293).
19 Papoea-Nieu-Guinee (0 p, 0, netto -1.268).
20 Oman (0 p, 0, netto -3.062).
[email protected]