Thompson, Alemayo, Jackson blink in Astana
Atletiek
Jamaika se Kishane Thompson het Wêreldatletiek se binnenshuise seisoen Saterdag by die Astana-byeenkoms in Kazakstan met ‘n knal begin.Daar was 'n oomblik van kommer toe dié 23-jarige in 6.56 sekondes oor die eindstreep van die 60 meterfinaal gebars en daarna vir 'n wyle mank geloop het. Hy het verlede naweek 6.48 in die buitelug in Jamaika behaal.
In die uitdunne was Thompson stadiger uit die blokke, maar het steeds sy plek gemaklik in die eindstryd met 6.58 bespreek. Ná Thompson was Oman se Ali Anwar Baluchi en Japan se Shuhei Tada onderskeidelik tweede en derde in 6.60 en 6.62.
In die 60 m-eindstryd vir vroue het Tia Clayton van Jamaika die byeenkomsrekord gebreek deur 7.18 vir 'n gemaklike oorwinning te behaal. Haar tweelingsuster Tina, 'n dubbele o.20-wêreldkampioen, wat haar oor die eerste 20 meter geëwenaar het, het derde geëindig, met Lorene Bazolo van Portugal tweede.
Die 3000 m vir vroue was 'n pluimpie vir die jeug toe die 16-jarige Marta Alemayo haar mede-Ethiopiër, Shito Gumi, self net 17, uitgestof het om die wêreld se o.18-rekord te verpletter.
Alemayo het meer as ses sekondes gesnoei van die rekord wat 12 jaar lank gestaan het toe sy die eindstreep in 8 minute 39.80 sekondes oorgesteek het.
As 'n tweemalige wêreldkampioen in die buitelug, het Chase Jackson in die gewigstoot haar klas gewys. Sy was die enigste atleet wat in staat was om verder as 19 meter (19.13) te gooi.
Astana is een van nege Gouevlak byeenkomste in 2025 se Binnenshuise Wêreldtoer, wat ook Boston, New York, Madrid en Belgrado insluit.
– [email protected]; Bron Matt Majendie vir Wêreldatletiek