Tigers (40 almal uit) kry pak slae; United beur moedig voort

Klubkrieket
JC Balt se vyftigtal vir Wanderers en Tangeni Lungameni se vier paaltjies vir WHS Old Boys het hulle die onderskeie spelers van die wedstryd gemaak.
Tielman Van Lill
Die vyfde ronde van Krieket Namibië se T20-premierliga die afgelope naweek het seges aan die medevoorlopers Old Boys en Wanderers by die Wit Hingste se hoofkwartier in Pionierspark besorg.
In ‘n verkorte oggendwedstryd weens nattigheid op die veld het APS Samsung Wanderers (172 vir 9 paaltjies in 18 boulbeurte) vir CCD Tigers (40 almal uit in 12.4) met 132 lopies oorrompel.
Tigers se boulers het aanvanklik goed gevaar deur goedkoop van Lo-han Louwrens (0) en JJ Smit (8) ontslae te raak. JC Balt wat saam met Louwrens die Hingste se kolfbeurt geopen het, het egter 65 lopies van 41 balle (7x4, 2x6) geslaan voordat Quincy Beukes hom geboul het.
Die Wanderers-kaptein Michau du Preez het ‘n stewige bydrae gelewer (39 van 28 b, 5x4), terwyl Karl Birkenstock ‘n vinnige 20 met drie sesse gemoker het voordat hy met sy tiende aflewering deur Joshuan Julius gestonk is.
Quincy Beukes (3 paaltjies vir 14 lopies in 2 boulbeurte) was Tigers se topbouler van die wedstryd met die paaltjies van Balt, Birkenstock en Colin Schoonbee (0).
Ben Shikongo (2/34 in 4), Junior Kariata (1/29 in 3), Salomon Nuuyoma (1/23 in 3) en Mauritius Nugupita (1/37 in 4) het ook hul kant gebring.
Ongelukkig kon Tigers se kolwers geensins die mas teen die Wanderers-boulaanval opkom nie. Simon Shikongo is tot nommer drie op die Tigers-kolflys bevorder waar hy die meeste lopies (13 van 11 b, 2x4) vir sy span aangeteken het.
Vir Wanderers het Jan-Izak de Villiers (3/2 in 2.4), Bernard Scholtz (2/9 in 4), JC Balt (2/7 in 2), Danie van Schoor (1/3 in 1) en PD Blignaut (1/8 in 2) verwoestig gesaai.
Wanderers het 21 grenshoue behaal (16x4, 5x6) en Tigers het drie viere behaal.
JC Balt is as speler van die wedstryd aangewys.

Old Boys oorleef teen United
In ‘n heelwat meer gebalanseerde kragmeting het ATG Old Boys met elf lopies teen Trustco United gewen.
In kolfvolgorde het JP Kotzé (30 van 24 b, 3x4, 1x6), Riaan Minnie (24 van 29 b, 2x4 1x6), Malan Kruger (25 van 15 b, 2x4, 2x6), Henry Olivier (23 van 26 b, 2x4, 1x6) en Zhivago Groenewald (21 nie uit nie van 23 b, 1x4, 1x6) bestendig bygedra tot hul span se totaal van 141/6 in 20 bb.
Vir United het Steph Fourie (2/25 in 4) die paaltjies van Malan Kruger en later Marius van Niekerk (5) geëis, terwyl Markus van Heerden (2/37 in 4) vir JP Kotzé en Dylan Leicher (2) laat stap het. Handré Klazinga (1/25 in 4) het sy gebruiklike bes gegee en is met die paaltjie van Olivier beloon, terwyl Tawanda Sithole (1/14 in 1) effe duur vir die prys van Minnie se paaltjie betaal het.
United se veelsydige staatmaker en sportman van die jaar Handré Klazinga op nommer ses was puik met die kolf (53 van 38 b, 5x4, 2x6) en het sy span uit die moeilikheid probeer kolf, maar hul aanslag het op 130 almal uit geëindig.
Steph Fourie op sewe (24 van 21 b, 1x4, 1x6) en nommer vier Michael Müller (11 van 10 b, 1x4) was die enigste ander kolwers wat dubbelsyfers vir United kon behaal.
Vir Old Boys was Tangeni Lungameni op sy stukke met vier paaltjies vir elf lopies in vier boulbeurte. Hy het United se kaptein en paaltjiewagter Zane Green (3) asook Gerhard Janse van Rensburg (7) laat uitvang voordat hy later teruggekeer het om ook van Tawanda Sithole en Markus van Heerden (0) ontslae te raak.
Zhivago Groenewald (1/13 in 4) was feitlik ewe ekonomies as Lungameni. Henry Olivier was aan die duur kant (2/41 in 4) en Dylan Leicher (1/33 in 4) het ook met tye pak gekry.
Old Boys het 16 grenshoue geslaan (10x4, 6x6) en United 12 (9x4, 3x6).
[email protected]