Tony Rust-renbaan smeul in Junie

Langbaanrenne
Wanneer Namibië se resiesjaers die pedaal neersit, smelt die teer ondanks die wintertemperature.
Tielman Van Lill
Windhoek-motorklub het Saterdag by die Tony Rust-renbaan aan die westelike buitewyke van die hoofstad die tweede ronde van die nasionale langbaanrenkampioenskap met groot sukses aangebied.
Allan Martin kon nie jaag nie en sy seun, Zachary, was ook buite aksie. Allan is besig om ‘n nuwe vuurwa te bou en dié is nog nie klaar nie, terwyl onderdele vir Zachary se Golf nie betyds opgedaag het nie.
Die bekende gesig van Bazill van Rhyn agter sy Audi TT se stange was ook gemis.
Mark Sternagel was wel in aksie met sy blitsige BMW, maar nie sonder veel moeite en drama nie. Sternagel moes Woensdag inderhaas op die vliegtuig na Johannesburg spring om suiers (pistons) vir sy BMW te gaan haal. Donderdag was hy terug in Windhoek waar die hoogoond later die aand uit die intensiewesorgeenheid gered is.
Met slegs drie ure se slaap Donderdagnag het Sternagel die volgende oggend die BMW vir dinamometertoetse gevat. Tegnologie wou nie heeltemal saamspeel nie, met die gevolg dat hy eers teen twee-uur Saterdagoggend in die bed kon kom.
Sesuur Saterdagoggend was Sternagel flink uit die vere om vir die resies voor te berei.
“Woorde sal nooit genoeg wees om te beskryf hoe dankbaar en geseënd ek is met die span wat ek om my het nie. Ons het een van die mees uitdagende weke ooit voor ‘n wedren gehad.
“Ek wil ieder en elk bedank. Dit sou regtig nie moontlik gewees het sonder enigeen van julle nie. Dankie aan my borge wat dit alles moontlik maak en glo in my vermoë om 'n uitdaging te laat werk,” het hy gesê.

Die voorste uitslae, met vinnigste baanrondte (indien beskikbaar) vir die 2.4 kilometer en fabrikaat tussen hakies. Die baanrekord behoort aan Sternagel met 61.608 sekondes.
Klas A: Michael van Zyl (71.641 sekondes, VW Golf 1).
Klas B: 1 Michael Strydom (75.016 s, Toyota Tazz), 2 Michael Rust (72.608 s, Volvo S40), 3 Hein Bisschoff (76.604 s, Chevy V8).
Klas C: 1 Ewald Bisschoff (77.306 s, Toyota Starlet T), 2 Geh Visagie (77.039 s, Space Frame V8), 3 Jan Everson (77.224 s, Opel Astra).
Klas D: 1 Mathew Strydom (81.580 s, VW Golf 1), 2 Pieter Greeff (81.335 s, VW Golf), 3 Jan Everson (Opel Astra).
Klas F: 1 Craig Bisschoff (85.798 s, Toyota MR2), 2 Chané Havenga (84.790 s, Ford Fiesta).
Supermotors: 1 Mark Sternagel (63.337 s, BMW), 2 MP Pretorius (VW Polo), 3 Richard Slamet (69.211 s, BMW).
[email protected]