Tweeperdresies nek-aan-nek in pylvak
Krieket
CCD Tigers en Trustco United kry nog 'n kans om 'n skokuitslag teen een van die twee gunstelinge te probeer bewerkstellig.
Met môre se twee kragmetings ingesluit, bly net vier oor voor die finaal van Krieket Namibië se T20-premierliga op 1 Desember. Die eerste spanne van APS Samsung Wanderers en ATG WHS Old Boys is ná vier wedstryde elk tans beide op twaalf punte boaan die puntelys van vier spanne.
Die eerste bal in die vyfde ronde sal môreoggend nege-uur tussen Wanderers en CCD Tigers geboul word. Old Boys 1 en Trustco United 1 sal teen 15:00 vir hul ontmoeting op die veld stap. Beide botsings word by die Wanderers-veld in Pionierspark beslis.
Old Boys het laas Saterdag vir Wanderers met 53 lopies in 20 boulbeurte geklop, terwyl United sy eerste vier ligapunte met 13 lopies teen Tigers in 20 boulbeurte bewerkstellig het.
In die eerste ronde het Wanderers (222/1) maalvleis gemaak van CCD (115/7) en met 107 lopies gewen, terwyl WHS Old Boys (203/5) selfs met ‘n groter verskil van 122 lopies teen United (81 almal uit) gewen het
Intense mededinging heers ook tussen die voorste boulers en kolwers vir die topposisies op Krieket Namibië se T20-ranglyste, asook om algehele ranglyspunte te verseker.
Topvyf lopiemakers ná vier wedstryde
JJ Smit van Wanderers (147 lopies in 3 kolfbeurte), JC Balt van Wanderers (145 in 4 beurte), Gerhard Erasmus van WHS Old Boys (140 in 2 beurte), JP Kotzé van WHS Old Boys (110 in 3 beurte) en Joshuan Julius van CCD (99 in 4 beurte).
Beste kolftempo (minstens twee kolfbeurte)
JJ Smit van Wanderers (186%), JP Kotzé (169%), Gerhard Erasmus (164%), Lo-han Louwrens (161%), Pikky ya France (150%).
Beste kolfgemiddeld
JJ Smit 73.50; Lo-han Louwrens 71; Gerhard Erasmus 70; JC Balt 48.33; Gerhard Janse van Rensburg van United 38.
Meeste sesse
JJ Smit 14; Gerhard Erasmus 7; JP Kotzé 6; JC Balt 6.
Meeste vangskote
Gerhard Erasmus ses in drie wedstryde.
Topvyf paaltjienemers
Jan-Izak de Villiers van Wanderers (9 paaltjies in 12 boulbeurte), Francois du Plessis van Old Boys (8 in 11.4), Zhivago Groenewald van Old Boys (7 in 16), Bernard Scholtz van Wanderers (6 in 12); Shaun Fouché van Old Boys (6 in 9).
Beste boulekonomie
Ramon Wilmot van CCD (1/18 in 4 bb; 4.50); Gerhard Erasmus (1/28 in 3 bb; 4.67); Markus van Heerden van United (2/14 in 3 bb; 4.67); Mauritius Ngupita van CCD (4/38 in 8; 4.75); Jack Brassell van Old Boys (3/29 in 6; 4.83).
Meeste leë balle
Zhivago Groenewald van Old Boys (56 in 16 bb); Bernard Scholtz van Wanderers (42 in 12 bb); Jan-Izak de Villiers (42 in 12 bb); Donovan Zealand van CCD (41 in 12 bb); PD Blignaut (38 in 14.3 bb).
Topvyf individuele ranglyspunte
JC Balt (680 punte), Gerhard Erasmus (655), JJ Smit (597), JP Kotzé (403); Ryan Moffett van CCD Tigers (373).
– [email protected]