Uganda Kraanvoëls kom tweede teen Eagles

Krieket
Twee uithardloopkanse is benut om Ugandese kolwers terug te stuur.
Tielman Van Lill
Selfvertroue loop steeds hoog nadat die Richelieu Eagles die eerste van drie amptelike oefenwedstryde teen Uganda in aanloop tot die T20-Wêreldbeker in Wes-Indië met vyf paaltjies beklink het.
Uganda se 134 vir agt in hul toegelate 20 boulbeurte onder spreiligte by die Brian Lara-krieketakademie in San Fernando, Trinidad en Tobago, was Maandagaand nie genoeg om Namibië (135/5 in 18.5) hok te slaan nie.
Die Eagles se topvyf kolwers het weereens nie as ‘n eenheid saam op al hul silinders geloop nie. Die topvyf het gesamentlik 110 lopies van 95 balle teen ‘n treftempo van 116 persent behaal.
Gemeet aan internasionale T20-standaarde moes dit tussen 120 en 130 persent gewees het. As dit nie vir Niko Davin se breë kolf was, sou hul treftempo dramaties laer gewees het.
Genadiglik het Davin, speler van die wedstryd, Uganda met 54 lopies van 34 balle teen ‘n uitstekende kolftempo van byna 159 persent raakgeslaan. Sy bullopie sluit drie viere en vyf sesse in vir sy sesde internasionale T20-vyftigtal.
JP Kotzé op drie (29 van 31 balle, 3x4, 1x6, 93.54%) en JJ Smit op vyf (21 nie uit nie van 20 b, 1x4, 1x6, 105%) het ook met goeie bydraes aan die gang gekom.
Frylinck op sewe (9* van 10 b, 1x4) het saam met Smit onoorwonne die paaltjies beman.
Gegrond op Smit se statistiek sou dit straks nie vergesog wees om hom eksperimenteel ‘n kans te gun om vroeër in die oefenwedstryde te gaan kolf nie. Hy spog met gemiddeld 39 per T20i-kolfbeurt, wat hy teen 148.8% per bal aanteken.
Aanvangskolwer Michael van Lingen (gevang op 4 van 6 b), Gerhard Erasmus op vier (been voor paaltjie, 2 van 4 b) en David Wiese op ses (gevang op 5 van 10 b) is dié keer goedkoop laat terugstap. Enige van die drie kolwers kan wel op enige dag verwoestende wedstrydwenners wees.
Al moes Uganda eerste gaan kolf, verdien sy kolwers krediet vir die goeie teenstand wat hulle met die wilgerlat gebied het. Die Eagles-boulers kon nie die Oos-Afrikane uitboul nie.
Tangeni Lungameni en Davin het met blitsige veldwerk onderskeidelik vir Brian Masaba op agt en Fred Achelam op nege in die 20ste boulbeurt uitgehardloop.
Namibië het vier naatboulers en twee draaiers in sy boulaanval ingespan.
Frylinck (0/32 in 3) en Dylan Leicher (1/10 in 1) het teen 10.66 en 10 lopies per boulbeurt ‘n bietjie straf verduur. Ben Shikongo (1/15 in 4) was teen 3.75 per boulbeurt die suinigste, gevolg deur Jack Brassell met 0/16 in 4, Erasmus (2/24 in 4) en Bernard Scholtz (2/31 in 4).
Uganda se meeste lopies het van aanvangskolwer Robinson Obuya (38 van 27 b, 5x4, 2x6, 140.74%, gevang) en Roger Mukasa op vier (51 nie uit nie 41 b, 6x4, 1x6, 124.4%) gekom.
Namibië slaan 16 grenshoue (9x4, 7x6) en staan 12 ekstras af (5 bylopies, 6 wydlopers). Uganda behaal 15 grenshoue (11x4, 4x6) en staan elf ekstras af (2 foutballe, 5 wydlopers).
Die Eagles het hul 135 lopies van 115 aflewerings met 7.16 per boulbeurt (117.4%) aangeteken. Uganda met 111.6% vir 134 van 120 aflewerings, het 6.7 per boulbeurt gehandhaaf.
Die Namibiërs se tweede amptelike oefenwedstryd sou gisternag (Namibiese tyd) teen Australië by die Queen's Park-ovaal in Port of Spain, Trinidad, afgehandel word.
Papoea-Nieu-Guinee op 30 Mei is die Eagles se laaste toetslopie voor die ernstige besigheid begin.
[email protected]