Uithouvermoë op Swakop getoets

Bergfietsry
Hul landgenoot Vera Looser is amptelik die beste ter wêreld in dié dissipline, maar sal nie soos gewoonlik hier wees om haar nasionale titel te verdedig nie. By die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) en hoofborg Nedbank se nasionale kampioenskap in marathon-bergfietsry wat Saterdag op Swakopmund aangebied word, wink die geleentheid waarskynlik vir óf Monique du Plessis (FOTO) óf Anri Greeff om die voorreg te verkry om die nasionale trui vir die volgende 12 maande te verwerf. In die mansresies is die ewe gedugte titelhouer Alex Miller op sy pos om by die beginstreep aan te tree, maar sal daarop kan reken dat uitdagers soos Martin Freyer, Theuns van der Westhuizen, Drikus Coetzee, Kevin Lowe en Jaques Hanekom met ewe veel ambisie sal kom aantree. Die kampioenskap begin en eindig by Two Beards Coffee (5 Einsteinstraat) e die afstande is 84 kilometer (met altesame 1500 meter se vertikale klimme) vir beide die mans en vroue, wat om 07:00 wegspring. Afsonderlike kategorieë word vir elektriese bergfietse aangebied (62.5 km begin 06:50, of 42.5 km se wegspring is 07:10). Die prysuitdeling is om 13:00 by Tiger Reef Beach Bar. Foto argief