Vereiste werkvisums vir sport ontwrig die planne ernstig

Motocross
Werkvisums verhoed Suid-Afrikaners om Saterdag die krane in Namibië te kom oopdraai.
Tielman Van Lill
Die vyfde rondte van die Namibiese nasionale motocross-kampioenskap vind komende Saterdag by Gallina noord van die hoofstad plaas.
Jaers van Suid-Afrika was veronderstel om ook by dié byeenkoms in aksie wees, wat beloof het om plaaslike ryers op hul tone te hou. Maar tot en met gister het organiseerders geen inskrywings van die ysterperdbrigade van oorkant die Oranjerivier ontvang nie.
Die probleem is visums en meer spesifiek werkvisums.
Namibiese immigrasie is klaarblyklik besig om toerisme én sportbesoeke na die land in die voet te skiet. Dit het onlangs met Windhoek-motorklub se Tara-tydren aan die lig gekom dat sportdeelnemers wat Namibië vir amptelike sportgeleenthede besoek, noodgedwonge ‘n werkvisum moet hê om die land binne te kom.
Paul van Wyk en Matt Kohler van die Westelike Provinsie-motorklub was op pad van Kaapstad vir die Tara-tydren, maar was deur immigrasie by die Noordoewer-grenspos toegang tot Namibië geweier.
Omrede Namibië nie vir sportvisums voorsiening maak nie, moes die Kapenaars werkvisums uitneem, wat elke individuele lid van hul diensspan ingesluit het.
Dieselfde het nou met die MX-spanne van Gauteng en die Wes-Kaap gebeur wat veronderstel was om komende Saterdag plaaslike talent op die proef te stel.
Volgens Namibiese immigrasie maak dit geen verskil of die besoekers amateur- of professionele sport beoefen nie. Betaal sal jy betaal.
Namibiërs wat vir sport na Angola, Botswana en Suid-Afrika reis, het vrye toegang tot dié buurlande om hul passie uit te leef.
[email protected]