Verligting ondanks oudste rolbalklub se gedwonge verskuiwing

Rolbal
Die klub se naam sal ook voortaan na United-rolbalklub verander.
Tielman Van Lill
Die trotse TransNamib-rolbalklub, die oudste in die land wat sedert 1938 bestaan, het einde Januarie 2024 sy 85ste en laaste Dawson-bekerkompetisie teen Windhoek-rolbalklub by hul jarelange vesting in die Windhoekse middestad gespeel.
Die Dawson-tradisie tussen die twee klubs sal voortduur, maar by TransNamib se nuwe tuiste in Olympia.
Christo Steenkamp, president van die rolbalklub wat tot nou as TransNamib bekend was, het aan Sport Wrap bevestig dat die klub voortaan as die United-rolbalklub sal fuksioneer.
“Ons het ’n stukkie grond by United gekry. Dis wel nie so ruim as wat ons graag sou wou gehad het nie, want jy kan nie regtig ’n volgrootte baan daar bou nie.
“Dit gaan ’n reuseproses wees om alles op te tel en by United te hervestig. Vandat ons met United begin praat het, het hulle ons met ope arms verwelkom. Rolbal is ’n sportkode wat hulle graag daar wil hê en ons ’n deel maak daarvan.
“Die feit dat ons wel kan skuif, is ’n groot oorwinning vir rolbal.”
Namibië se oudste rolbalklub, wat in die vorige politieke bedeling as Talpark bekend gestaan het, moet die venue einde Maart 2024 ontruim nadat alle onderhandelinge met die nasionale spoorvervoermaatskappy TransNamib onsuksesvol was.
Sake het in 2020 begin kriewel toe TransNamib aan die rolbalklub gesê het hulle wil die perseel vir ander doeleindes aanwend.
Die klub het TransNamib met voorstelle genader, maar die eienaars van die eiendom was nie daarvoor te vinde nie. Bemiddeling deur middel van prokureurs en later ’n hofsaak was aan die einde nutteloos.
TransNamib het in die afgelope jaar of twee ook vir CCD Tigers, een van net vier klubs wat tans in Krieket Namibië se premierliga meeding, ondanks voortdurende onderhandelinge van sy gebruiklike perseel in Pionierspark weggewerk.
[email protected]