Verloor die loot, verloor die wedstryd
Krieket
Om eerste te kolf in Kirtipur het sover vir geen span nog die gewenste uitslag gelewer nie.
’n Giftige kolfblad tydens die oggendsessie van eendagwedstryde in Kirtipur, Nepal, spook steeds by kolwers, ’n jaar nadat Namibië laas daar getoer het.Die Richelieu Eagles het gister met sewe paaltjies teen Nederland verloor in die derde internasionale eendagwedstryd (ODI) van die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks (2024-2027) se eerste driehoekige mini-toernooi in Nepal.
Die Eagles (123 almal uit in 35.1 boulbeurte) het die loot verloor en soos verwag het Scott Edwards, kaptein van Die Oranje, die besoekers ingestuur om sy boulaanval te trotseer. Die Nederlanders (124/3 in 27.2) het die wenteiken gemaklik verbygesteek met 136 balle oor.
JJ Smit, onderkaptein van die Eagles, het op nommer ses dapper 26 lopies van 46 balle behaal, bygestaan deur nommer nege Ruben Trumpelmann met 20 (39 b).
Die Nederlandse boulers het egter op gereelde grondslag soos ’n warm mes deur sagte botter deur die verdediging van die Namibiese topkolwers geglip.
Die aanvangspaar JP Kotzé (5 van 30 balle) en Niko Davin (13 van 18 b), gevolg deur Michael van Lingen (4 van 4 b), Gerhard Erasmus (13 van 11 b), Jan Frylinck (0 van 3 b) en Nicol Loftie-Eaton (0 van 4 b) is binne 13 boulbeurte uitgehaal.
Op 44/6 ná 13 boulbeurte was alle soorte reddingswerk nodig.
Nederland se regterarm-wegbreekbouler en speler van die wedstryd, Aryan Dutt, het ses paaltjies vir 34 lopies in nege boulbeurte geneem. Hy het van Kotzé, Van Lingen, Erasmus, Frylinck, Nicol Loftie-Eaton én paaltjiewagter Zane Green (19 van 29 balle) ontslae geraak.
Aanvangsbouler Kyle Klein (2/21 in 5.2) en die draaiers Roelof van der Merwe (1/36 in 10) en Max O’Dowd (1/16 in 2) se deurbrake het ook tot die beskeie Namibiese totaal bygedra.
Michael Levitt het sy eerste vyftigtal in internasionale eendagkrieket aangeteken, naamlik 57 lopies van 81 aflewerings. Hy het Erasmus se derde en laaste slagoffer van die Nederlandse kolfbeurt geword.
Erasmus het ook ontslae geraak van sy aanvangsmaat O’Dowd (28 van 42 b, 2x4, 2x6) en Sybrand Engelbrecht op drie (6), terwyl Bas de Leede op vier onoorwonne was (21* van 20 b, 1x4, 2x6).
Levitt het met agt viere en twee sesse bygedra tot sy span se totaal van 18 grenshoue (12x4, 6x6). Namibië kon die grenstou met 15 grenshoue (12x4, 3x6) haal.
Erasmus (3/23 in 7) was baie ekonomies en loshande die beste van die Namibiese boulaanval. Bernard Scholtz het nie ’n paaltjie geneem nie, maar sy 0/29 in 9 het ’n remskoen op die lopievloei van die Nederlanders geplaas.
JP Kotzé in die plek van die naatbouler Jack Brassell (2/11 in 5 bb in sy ODI-debuut vier dae tevore teen Nepal) was die enkele verandering aan die Namibiese elftal
STAND VAN SAKE
Nepal, Namibië en Nederland het tot dusver elk een eendagwedstryd gewen in die eerste mini-toernooi van die CWCL2-reeks waar elke span vier wedstryde speel.
Die seëvierende spanne was soos klokslag diegene wat tweede gaan kolf het, terwyl die verloorspan ingestuur is nadat hulle die loot verloor het.
Die Richelieu Eagles pak Nepal môreoggend by dieselfde venue. Nederland volg Vrydag in Kirtipur in die Namibiërs se laaste eendagwedstryd.
Namibië het laas Donderdag hul eerste eendagwedstryd teen Nepal oortuigend gewen. Die gasheerspan het egter Saterdag dramaties reggeruk deur Nederland vir 137 uit te boul en met nege paaltjies te wen, danksy hul speler va die wedstryd Kushal Bhurtel (4/20 en 28 van 11 balle).
’n Reeks internasionale T20-wedstryde in Kirtipur tussen dieselfde drie spanne sal ná die voltooiing van die eendagwedstryde volg.
– [email protected]