Vreeslose Kanada druk sy stempel af

Krieket
Opponente wat die Noord-Amerikaners dalkies onderskat het, het sover lelik op hul neus gekyk.
Tielman Van Lill
Kanada, ondanksy sy bevordering uit ’n laer liga, het reeds vriend en vyand verras met hul onlangse vertonings en eerste reekssege in die Krieketwêreldbeker Liga Twee-reeks (CWCL2, 2024-2027).
In die tweede driehoekige mini-toernooi van die CWCL2-reeks (2024-2027) het dié groentjies teen Skotland en die Verenigde Arabiese Emirate ’n sterk boodskap aan hul mededingers gestuur.
Met sy reekssege in Doebai het Kanada vanaf die 20ste posisie tot 17de op die ICC se wêreldranglys vir eendagkrieket gevorder. Namibië is 16de.
Kanada het elk van sy vier internasionale eendagwedstryde (ODI’s) teen Skotland en die Emirate op ’n galop ingepalm. Dié ontnugtering sal veral by Skotland spook, wat die vorige CWCL2-siklus (2019-2023) oortuigend gewen het.
Dié nuutste verwikkeling sal ewe deeglik deur Namibië, Nederland, Nepal, Oman en die VSA bestudeer word, wat ook in die CWCL2 kompeteer.
Die Emirate kon in die mini-toernooi nie ’n enkele ODI in sy eie agterplaas wen nie. Hul laaste ODI sou laas Saterdag teen Skotland wees, maar die botsing is weens reën afgestel sonder dat ’n enkele bal geboul kon word.
Die Emirate was nog altyd ’n hardnekkige teenstander in Doebai en sal hul onlangse drie loesings teen Kanada (2) en Skotland (1) nie ligtelik opneem nie. Skotland self is skielik onder druk ná sy powere vertoning as heersende CWCL2-kampioen, nadat hy in Doebai darem wel die Emirate in een ODI kon troef.

VOLGENDE WAG DUNDEE
Zeeshan Maqsood en sy Oman-span reis Meimaand na Skotland waar die tuisspan en Namibië se Richelieu Eagles vanaf 2 tot 10 Mei in die derde mini-toernoooi opgeweeg word.
Behalwe die vier ODI’s wat elke span by Forthill in Dundee speel, volg ’n enkele T20i-wedstryd tussen Skotland en Oman nadat die CWCL2-minireeks afgehandel is.
Op die oomblik speel Skotland en die Emirate in Doebai hul T20i-kompetisie. Die uitslag van die tweegeveg in drie botsings sal die Eagles boei.

DUBAI-TOERNOOI, OPGESOM
Kanada (198/7 in 47.4 boulbeurte) het die Emirate (194 almal uit in 47.5) in die eerste ODI met 14 balle oor met drie paaltjies oordonder.
Die tweede ODI, Kanada 220/3 (in 40.3) verpletter vir Skotland (215/8 in 50) met sewe paaltjies (57 balle oor).
Wedstryd 3, Kanada (241/6 in 49.4) het opnuut die Emirate (228/8 in 46.4) die loef met agt lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode getroef.
Kanada (200/5 in 45.3) vee ook die vloer met die Skotte (197 almal uit in 47.3) in die vierde en laaste ODI met ’n vyfpaaltjiesege en 27 aflewerings oor.

INDIVIDUE
Wie was Kanada se brekers as boulers en kolwers? Die goed gebalanseerde span was in beide afdelings hul teenstanders se tier.
Hul boulers was uiters ekonomies en net Uday Bhagwan wat in een wedstryd vyf beurte afgestuur het, het meer as vyf lopies per boulbeurt gekos. Kaleem Sana het in net drie ODI’s geboul en was die mees ekonomiese van die boulaanval. Indien hy nie deur Bhagwan vervang was nie, kon hy nes Dillon Heyliger dalk nege slagoffers bewerkstellig het. Hy het ook net 25 boulbeurte tot sy beskikking gehad.
Die veelsydige Harsh Thaker was met vyf paaltjies en 234 lopies s Kanada se sterspeler vir die toernooi en was sy gewig in goud werd.

KANADA SE BOULSYFERS
Heyliger: 4 wedstryde (9/184 in 40 teen 4.6).
Kaleem Sana: 3 wedstryde (6/83 in 25.2, 4 leeg @ 3.3).
Harsh Thaker: 4 wedstryde (5/141 in 38, 1 leeg @ 3.71).
Saad Bin Zafar: 4 wedstryde (5/152 in 35, 1 leeg @ 4.34).
Ammar Khalid: 4 wedstryde (5/146 in 33, 2 leeg @ 4.42).
Nicholas Kirton: 3 wedstryde (3/62 in 15 @ 4.13).
Uday Bhagwan: 1 wedstryd (0/28 in 5 @ 5.6)
Naveet Dhaliwal het ’n nagmerrie as kolwer beleef en sy plek mag onder druk wees. Harsh Thager het twee honderdtalle geslaan en was ongetwyfeld Kanada se topkolwer.

KANADA SE KOLFVERTONINGS, IN KOLFORDE
1 Srimantha Wijeyeratne: 4 kolfbeurte (136 lopies, 194 balle, 13x4).
2 Aaron Johnson: 4 kolfbeurte (91 van 93 b, 5x4, 8x6).
3 Pargat Singh: 4 kolfbeurte (107 van 127 b, 14x4, 1x6).
4 Navneet Dhaliwal: 4 kolfbeurte (31 van 78 b, 1x6).
5 Harsh Thaker: 4 kolfbeurte (234 van 289 b, 14x4, 3x6).
6 Nicholas Kirton: 3 kolfbeurte (138 van 211 b, 10x4).
7 Shreyas Movva: 3 kolfbeurte (32 van 48 b, 2x4).
8 Saad Bin Zafar: 2 kolfbeurte (38 van 55 b, 1x4, 1x6).

T20-WÊRELDBEKER
Nege assosiaatlidlande van die ICC sal Juniemaand by die T20-Wêreldbeker in aksie wees, naamlik Kanada, Namibië, Nederland, Nepal, Oman, Papoea-Nieu-Guinee, Skotland, Uganda en die VSA.
Namibië se eerste ontmoeting is teen Oman op 3 Junie by die Kensington-ovaal in Bridgetown, Barbados. Die ander spanne in groep B is Australië, Engeland en Skotland.
[email protected]