Vyf hoopvolle Paralimpiërs reg vir Parys

Atletiek vir gestremdes
Die mees omvattende TV-dekking wat enige Paralimpiese Spele nóg kon bewerkstellig, is een aspek wat die komende skouspel uniek maak.
Tielman Van Lill
Die 2024 Olimpiese Spele in Parys is reeds deel van die geskiedenis, maar die aksie in die Franse hoofstad is ver van klaar met die naderende Paralimpiese Spele opnuut ‘n trekpleister.
Vyf baan- en veldatlete sal Namibië verteenwoordig, naamlik Ananias Shikongo (T11), Chris Kinda, Johannes Nambala (T13), Lahja Ishitile en Petrus Karuli.
Saam met hulle is die gidshardlopers Even Tjiuiu, Hatago Murere, Kelvin Goagoseb, Onesmus Nekundi, Sem Shimanda en Sydney Kamuuaruma.
Die Paralimpiese Spele sal van 28 Augustus tot 8 September van Parys besit neem. Vele van dieselfde ikoniese venues sal weer ingespan word wat tydens die Olimpiese Spele gebruik was.
Ongeveer 4 400 atlete sal in 22 sportkodes en 23 dissiplines met individuele deelname asook spansporte hul staal toon.
Die sportkodes is atletiek, doelbal, baan- en padfietsry, boccia, boogskiet, gewigoptel, judo, kanovaar, pluimbal, roei, rolstoelbasketbal, rolstoelrugby, rolstoelskermkuns, rolstoeltennis, rolstoelvlugbal, skiet, ruiterkuns, sokker, swem, taekwondo, tafeltennis en triathlon.
Thomas Jolly, dieselfde kunstenaar wat vir die Olimppiese Spele se openings- en afsluitingseremonie verantwoordlik was, sal ook dié formaliteite van die Paralimpiese Spele hanteer.
Al die aksie van die 22 sportsoorte kan kosteloos in 175 lande op die Paralimpiese YouTube-kanaal (YouTube.com/paralympics) gesien word. Kykers kan tot vier kanale gelyktydig benut. Dit is tot op datum die mees omvattende dekking wat enige Paralimpiese Spele nóg kon bewerkstellig. Dit sluit regstreekse uitsendings, herhalings, pakkette met hoogtepunte asook biografiese kollig op sommige van die individuele supersterre bied.

Spele-medaljes
Shikongo het by die 2016 Rio Para Spele die eerste Namibiese man geword wat ‘n goue medalje by ‘n Olimpiese of Paralimpiese Spele verower het. In hierdie opsig het hy selfs sy held Frank Fredericks oortref.
Hy het ook in die voetspore van Johanna Benson gevolg wat tydens die 2012 Londen Paralimpiese Spele goud in die 200 opgeraap het. Benson (T37-klas vir serebrale gestremdheid) se prestasies wat ook silwer in die 100 ingesluit het, het die land in rep en roer gehad.
Shikongo het in Rio ook twee bronsmedaljes in die 100 en 400 meter gewen. Sy laaste medalje was ‘n uitstekende 400-silwer by die 2021 Tokio Spele in Japan.
Hy het in Rio die Afrika-rekord in die 100 (11.11 sekondes) opgestel. In die 200 het hy die kontinentale Para-rekord twee keer verpletter; eers tydens die semifinale (22.48) voor hy dit in die finaal met 22.44 herskryf het.
Sedert 2013 het hy ook ‘n oes van vier silwers en twee brons by Paralimpiese wêreldkampioenskappe ingeoes – maar sal Shikongo op 38-jarige leeftyd steeds genoeg in die tenk hê om weer sy plek onder die voorste gesiggestremde naellopers op die planeet in te neem?
• Johannes Nambala (33) spog met twee silwer- en een bronsmedalje by die Paralimpiese Spele. Sy twee silwers het hy in Rio in die 100 en 400 behaal, terwyl hy sy brons in Tokio in die 400 bewerkstellig het. By wêreldkampioenskappe sedert 2013 spog hy met drie goues in die 200 en 400, asook vier silwers en twee brons.
[email protected]