Vyfde ronde ‘n belangrike tydstip in kampioenskap

Motocross
Lourens du Plessis is met 'n gebreekte linkerarm op die krukkelys. Met sy MX-seisoen iets van die verlede, sal hy vir die eerste keer in 'n lang tyd as toeskouer 'n kompetisie bywoon.
Tielman Van Lill
Al word ysige temperature Saterdagoggend in die Brakwater-omgewing voorspel, sal vuurwarm aksie tydens die vyfde ronde van die Namibiese motocross-kampioenskap by die Gallina-MX-park die koue gou verjaag.
Die kampioenskap is tans in ‘n gevorderde stadium en jaers in die nege klasse is gerat om elke beskikbare punt op te raap.
Wie is die topdrie in die eerste vyf klasse wat opnuut elke moontlike toertjie gaan gebruik om hul teenstanders te uitoorlê?
50 cc: Carter Bouwer, Markus Pack en Mason Meyer loop voor in die kampioenskap. Maximillian Skutsch (vierde) is net 19 punte agter Meyer.
65 cc: Oliver Mathews, Markus Pack en Pauls Mans is stewig inbeheer, maar De Wet du Plessis is besig om Mans in te haal en kan selfs nog vir Pack verbysteek.
85 cc: Dis te betwyfel of Khian Kotze sy voorste posisie sal verloor. Dus lê die groot stryd tussen Connor Bouwer en Christopher Still om Patrick Geiger hok te slaan.
Junior 125 cc: Juan de Vos, Gero Friederich en Bjorn Kebbel is tans kaatjie van die MX-baan. Tussen Vos en Friederich is net 17 punte verskil, terwyl tussen Friederich en Kebbel ‘n buffer van 33 is.
By die vroue is Zoe Waldschmidt 80 punte voor Gabriella Still en tussen Still en Ronja Friederich 19 die verskil.
Waldschmidt is ‘n Mejuffrou Gimnasium-finalis en as deel van haar pligte ondersteun sy met ywer die Mercy Say Yes Skool vir minder bevoorregte kinders in Okahandja. Sy samel niebederfbare kos in om die kinders te help.
Zoe vra: “Wanneer julle MX gaan kyk, skenk asseblief iets vir die kinders. Bring groot asseblief iets eetbaar soos blikkieskos, pasta, rys, mieliemeel, lensies en stampmielies. Enige droëkos sal werk. Daar sal by Die Oog (kroeggedeelte) ‘n kartondoos vir die skenkings beskikbaar wees. Baie dankie, ek sal dit werklik waardeer.”

King of the Dirt
Jaagduiwels soos Mark Sternagel, Juan de Vos, Gero Friederich, Sigi Pack, Rigo Wolf, Bjorn Kebbel, Jarno Metzger, Tony Viljoen, Marco Lindemeier, Tertius Joubert, Olaf Pack, Ronald Geiger, Zoe Waldschmidt, Markus Muller en Gino Meyer sal opnuut die pap dik in die laaste kompetisie van die dag aanmaak.
[email protected]