Wanda verhoog prysgeld tot hoogste vlak nóg

Atletiek
Tielman Van Lill
Die Wanda Diamantliga-atletiekreeks sal vanaf volgende seisoen sy prysgeld aan atlete tot die hoogste vlakke in sy geskiedenis verhoog.
Ná ’n besluit die afgelope Sondag deur die Diamantliga by sy algemene vergadering, sal die totale bedrag prysgeld wat deur die loop van die seisoen uitbetaal word, tot 9 240 000 Amerikaanse dollar in 2025 toeneem.
Die nuwe totaal is bykans 'n derde hoër as die bedrag wat uitbetaal is gedurende die pandemie-geaffekteerde tydperk van 2021-2024, en die hoogste nog sedert die Diamantliga se bekendstelling in 2010.
Promosiefooie vir topatlete ingesluit, sal 'n totaal van ongeveer 18 miljoen USD in totaal aan atlete oor die loop van die 2025-seisoen betaal word, met nog meer miljoene wat op atlete se koste soos reis en vervoer, verblyf, mediese en fisiovoorsiening belê word.
Onder die nuwe struktuur sal die totale prysgeld wat per byeenkoms toegeken word 500 000 USD by elk van die 14 gereelde reeksbyeenkomste wees, en 2 240 000 USD by die Wanda Diamantliga-finaal.
Die totale prysgeld per dissipline sal tussen 30 000 USD en 50 000 USD by die reeksbyeenkomste wees en tussen 60 000 USD en 100 000 USD by die finaal.
Soos altyd is prysgeld heeltemal geslagsgelyk, met presies dieselfde tariewe vir manlike en vroulike atlete. Die verhoging sal ook van toepassing wees op elk van die 32 Diamond-atletiekdissiplines, wat atlete oor die volle diversiteit van baan en veld in gelyke mate bevoordeel.
Die toename in prysgeld weerspieël die Wanda Diamantliga se posisie as atletiek se voorste eendagreeks en die ruggraat van die buitelugseisoen vir die wêreld se grootste sterre.
Die reeks, met 15 byeenkomste in 13 lande op vier verskillende kontinente, bied jaarliks aan elite-atlete van oraloor die wêreld die kans om vanaf April tot September op die hoogste vlak mee te ding.
Sedert 2010 het die reeks en sy byeenkomste na raming 270 miljoen USD in atlete belê: 180 miljoen USD in promosiefooie en prysgeld, en ongeveer 90 miljoen USD in dienste aan atlete.
[email protected]