Warm, warmer, Tony Rust

Langbaanrenne
Die plaaslike renseisoen het op 'n hoë noot begin.
Tielman Van Lill
Die eerste byeenkoms van die Namibiese nasionale langbaankampioenskapsreeks is Saterdag met twaalf mededingende deelnemers by die Tony Rust-renbaan wes van die hoofstad aangebied.
Mark Sternagel (BMW) en Zachary Martin (VW Golf) het in die afdeling vir supermotors deelgeneem. Richard Slamet moes ook in dié klas jaag, maar sy BMW het ’n meganiese ongesteldheid tydens die kwalifiseringsrondtes opgedoen en hy moes ongelukkig onttrek.
Martin het al drie sy renne voltooi, hoewel stadiger as wat sy Golf kan jaag nadat sy inlaatspruitstuk gekraak het.
Niemand kon teen Sternagel byhou nie. Hy het nie sy blitsige BMW se volle potensiaal benut nie, want dié se oond is pas verlede week herbou. Sternagel hou die bestaande baanrekord met dieselfde BMW.
Michel Rust (Volvo T) en Hein Bisschoff (Chevy V8) het Bazill van Rhyn (Audi TT) se kompetisie in klas B misgeloop. Rust se Volvo is tans in ’n klas van sy eie. Nadat die vorige enjin verlede jaar die gees gegee het, is die silwerpyl se nuwe enjin ’n perd van ’n ander kleur.
Met ’n groter turbo en veel meer asem kon Hein nie met sy kragtige V8 by Rust se versnelling hou nie. Hein kon geen renbande in die land opspoor nie en moes noodgedwonge met gewone padbande die resies pak. Om die draaie het hy al sy dae gehad om die Chevy in toom te hou.
In klas C het Clive Strydom (VW Golf) en Ewald Bisschoff (Toyota Startlet T) mekaar goed gas gegee.
Klas D het die meeste inskrywings gehad. Michael Strydom (VW Golf), André Havenga (Ford Fiesta) en Pieter Greeff (VW Golf) was in ’n verbete stryd gewikkel.
Craig Bisschoff (Toyota MR2) en Jordan Izaaks (VW Caddy) het onderskeidelik in klas F en klas X (beginners) hul eie resies gehad. Izaaks kon nie die derde resies vir die dag ry nie.
Die voorste uitslae:
Supermotors: 1 Mark Sternagel (beste rondtetyd 63.83 sekondes), 2 Martin (68.93).
Klas B: 1 Michel Rust (72.58), Hein Bisschoff (76.05).
Klas C: Clive Strydom (77.75), 2 Ewald Bisschoff (78.55).
Klas D: 1 Michael Strydom (78.25), 2 André Havenga (79.75), 3 Pieter Greeff (79.99).
Klas F: 1 Craig Bisschoff (88).
Klas X: 1 Jordan Izaaks (94.63).
[email protected]