Warriors-ondersteuners voel beroof

Sokker
Namibiese sokkerliefhebbers byt op hul tong om nie openlik krities oor die vertoning van die wedstrydbeamptes te wees ná afloop van Saterdagaand se neerlaag met 0-1 vir die Brave Warriors teen Kameroen in hul openingswedstryd van die kwalifiserende veldtog vir die 2025 Afrika Nasiebeker nie.
Geoordeel aan die beskikbare TV-materiaal was Aboubakar Vincent met etlike meters onkant voordat hy die aangee ontvang het vir wat uiteindelik sy wendoel in die 67ste minuut in Douala was.
Kameroen is onteenseglik een van die grotes in Afrika-sokker, maar sy enigste twee vorige ontmoetings met Namibië met verlede jaar op ‘n nederlaag en ‘n gelykopuitslag uitgeloop.
Die Brave Warriors se afrigter Collin Benjamin moes onmiddellik ná die eindfluitjie in sy TV-onderhoud versigtig trap om homself nie in moeilikheid te dompel indien hy die wedstrydbeamptes sou kritiseer nie.
“Ek is trots op my span wat teen sterk opposisie te staan gekom het; ons het die beter kanse in die wedstryd geskep. Daar was elemente in spel wat met aandag ondersoek behoort te word wat nie regverdig verloop het nie. Ons probeer die spel in ‘n goeie gees speel, maar ek reken ons was vandag die beter span.”
Die Namibiese doelwagter Edward Maova was ‘n uitblinker met goeie stukkies keerwerk teen Kameroen. Die res van die Brave Warriors se beginspan was Riaan Hanamub, Charles Hambira, Ivan Kamberipa, Kennedy Amutenya, Aprocius Petrus, Moses Shidolo, Ngero Katua, Deon Hotto, Peter Shalulile en Prins Tjiueza.
Die ander twee spanne in kwalifiserende groep J, Kenia en Zimbabwe, het Saterdag in Uganda se hoofstad Kampala ontmoet en met 0-0 gelykop gespeel.
Die Brave Warriors speel Dinsdag (10 September) in Soweto teen die Keniane, terwyl Zimbabwe en Kameroen terselfdertyd ‘n bestemde wedstryd in Kampala het.