Wit Hingste maak kleingeld van Grootfontein

Klubrugby
Andrew Poolman
FNB Wanderers het opnuut wenkbroue laat lig met ‘n reuse-oorwinning van 70-18 op sy tuisveld teen FNB Grootfontein, wat sy voorsprong boaan die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga tot tien punte vergroot het.
Met drieë deur heelagter Johnny Mwenyo (2), senters Danie van der Merwe (2) en Danco Burger, vleuel Nico Maartens, losskakel Denzo Bruwer (2), stut Liam Compion en ‘n strafdrie het Wanderers opnuut indrukwekkende diepte uitgestal en enige hoop in die kiem gesmoor dat die immer vasberade Grootfontein vir ‘n verrassing sou sorg.
Met nege doelskoppe het Bruwer (28 punte) opnuut sy waarde gewys, terwyl Grootfontein se enigste twee drieë deur haker en kaptein Wikus Jacobs en agtsteman Eloff du Plessis gedruk is.
Vreemd genoeg was die telling tot 26-18 nog binne bereik vir Grootfontein, maar Wanderers het hierna die ekstra rat gevind.
• Kudus, wat ‘n loslootjie gehad het en een wedstryd minder as Wanderers gespeel het, is na dese tien ligapunte agter afrigter Darryl de la Harpe se Wit Hingste.
• Trustco United is in sy hoogste posisie nóg danksy sy bonuspunt-oorwinning met 28-26 teen FNB Western Suburbs in Khomasdal.
Die haker JT Basson (tevore Namibië o.20) het met drie drieë sy aandele laat styg, terwyl die hardwerkende flank Thehard Lintvelt ook ‘n drie gedruk het. Ricard Swartz (losskakel) en Enrique Husselmann (heelagter) het skoppunte bygevoeg.
Suburbs wat onlangs nog derde was, kon darem een verloorbonuspunt uit die vuur red en is nou sesde uit nege spanne.
• FNB Reho Falcon het die plaaslike derby teen FNB Rehoboth met 25-21 beklink (rustyd 17-14) nadat beide spanne drie drieë gedruk het.
Aan beide kante is ‘n mate van ontevredenheid uitgespreek dat skeidsregter Anthonie de Greeff se lang praatjies met spelers of wedstrydbeamptes die vloei belemmer het en dat beide spanne meer drieë kon druk indien ‘n ander blaser in beheer was.
• FNB Unam het gewys dat sy kanse vir die semifinaal ook nog nie begrawe is nie, met dubbele bonuspunte vir sy sege met 49-22 op Swakopmund teen FNB Dolphin.
Met sewe drieë (twee elk deur vleuel Quirione Majiedt en agtsteman Gilad Plaatjies; een elk deur heelagter Davitho van Wyk, vleuel Nunuhe Mbahimua en skrumskakel AJ Kearns) het Unam opgeskuif tot vyfde, ná ‘n onseker begin vir hul seisoen. Losskakel Aljarreau Zaahl was in die kol met elk van sy sewe doelskoppe.
• Uitslae, komende wedstrydbepalings, puntestand en nuus by www.fnbrugby.my.na/