Wêreldkampioen bly die topspan

Rugby
Wêreldrugby het die afgelope naweek sy ranglyste vir internasionale mans en vrouespanne bekend gemaak.
Tielman Van Lill
Die Springbokke het hul topposisie op Wêreldrugby se opgedateerde ranglys behou nadat hulle Australië oortuigend met 33-7 in Brisbane verniel het.
Die Bokke speel komende Saterdag in Perth teen Australië in die tweede toets van die Castle Lager Rugbykampioenskap. Daarna keer hulle terug na Suid-Afrika vir twee toetse teen die All Blacks op 31 Augustus in Johannesburg en 7 September in Kaapstad.
Suid-Afrika sou sy topposisie ten gunste van Ierland verloor het indien hy teen die Aussies verloor het. Indien die Bokke met meer as 15 punte sou verloor, kon hulle selfs tot derde teruggesak het, mits die All Blacks ook vir Argentinië in Wellington geklop het.
Die Poemas het egter die Kiwi’s met 38-30 uitoorlê en die Nieu-Seelanders bly derde op die ranglys. Dit was Argentinië se tweede sege teen die All Blacks sedert die 2020 Drienasiesreeks.
Australië wat negende is, se treurmare duur voort, terwyl Namibië hom tans in die 25ste posisie bevind. Rusland, Hongkong, Chili, Kanada, Roemenië, die VSA, Spanje, Uruguay, Tonga en Portugal beklee in die genoemde volgorde die 24ste tot 15de posisies.
Daar is slegs 1.84 punte verskil tussen Zimbabwe (28ste) en Namibië.

Wêreldrugby se nuutste ranglys vir mans:
1 Suid-Afrika 93.11
2 Ierland 92.12
3 Nieu-Seeland 90.37
4 Frankryk 86.96
5 Engeland 85.40
6 Skotland 82.82
7 Argentinië 81.64
8 Italië 79.98
9 Australië 78.96.
10 Fidji 77.44
11 Wallis 76.04
12 Georgië 74.10
13 Samoa 73.65
14 Japan 71.63
15 Portugal 70.61
16 Tonga 68.66
17 Uruguay 67.39
18 Spanje 66.29
19 VSA 66.01
20 Roemenië 62.62
21 Kanada 61.87
22 Chili 61.39
23 Hongkong 60.40
24 Rusland 58.06
25 Namibië 57.87
26 Switserland 57.44
27 Nederland 57.29
28 Zimbabwe 56.03
29 Brasilië 55.83
30 België 55.11

Vroue
1 Engeland 96.90.
2 Nieu-Seeland 89.32
3 Kanada 89.13
4 Frankryk 87.27
5 Australië 78.00
6 Skotland 75.99
7 VSA 74.57.
8 Wallis 74.28
9 Italië 74.26
10 Ierland 73.53
11 Japan 68.23
12 Suid-Afrika 65.17
[email protected]