Wêreldklas: Meuwesen voeg silwer by

Boogskiet
Tielman Van Lill
Die Internasionale Veldboogskietvereniging (IFAA) se 2024 Wêreldkampioenskap het Sondag ná nege dae van intense mededinging in Foz do Iguaçu, Brasilië, tot ‘n einde gekom.
Namibië se tweemalige wêreldkampioen in veldboogskiet, Jannie Meuwesen, het sy land vir die derde jaar agtereenvolgend met nog ‘n medalje-oes in Foz do Iguaçu verteenwoordig.
Meuwesen se silwer het gekom nadat HJ Swanepoel van Suid-Afrika hom met ‘n skrale vier punte vir die goud geklop het. Swanepoel en Meuwesen het onderskeidelik 2 769 en 2765 punte behaal. Die bronsmedalje is deur Danie Oosthuizen van Australië met 2 740 punte opgeëis.
Christopher Deston (2735) van die VSA en Hendrik Verhoef (2733) van Suid-Afrika was die volgende manne wat net-net die podiumposisies misgeloop het. Skutters van Argentinië, Brasilië, Nieu-Seeland, Uruguay, Trinidad & Tobago en Europa het ook meegeding.
Die 44-jarige Meuwesen sê: “Die kampioenskap was opnuut ‘n ondervinding van ‘n leeftyd. Wat ‘n eer is dit nie om drie keer openvolgens op die podium by die wêreldkampioenskap te staan en ‘n medalje vir jou land huis toe te vat nie.
“Dié keer was dit silwer vir my, maar dis een waarop ek baie trots is. Veral op die laaste dag toe ek besef het wat ek kan doen as ek in myself glo.
“Baie geluk aan HJ Swanepoel met jou goue medalje. Jy het die hele week soos ‘n kampioen geskiet. Baie geluk Danie Oosthuizen met jou brons. Jy het ons almal groot laat skrik toe ons besef het wat jy met ‘n boog in jou hande kan doen!
“Veldboogskiet is daadwerklik ‘n familie van boogskutters. Ek het weer goeie vriende gemaak. Die kameraadskap en sportmanskap was op sy beste.
“Om in die reënwoud met al sy uitdagings te skiet, was vet pret vir my. Vir my was skiet tydens reënweer ‘n eerste keer en die eindresultaat was nogal heelwat beter as wat ek gedink het. Wens ek kon bietjie van die reën terugneem na ons land toe.
“Die horlosie het reeds begin tik vir die volgende 2026 wêreldkampioenskap in Yankton in die Verenigde State van Amerika. Ek het genoeg tyd om die ervaring wat ek in Foz do Iguaçu opgedoen het, te ontleed. Ek kan hierop voortbou om in 2026 beter te wees.
“Ek bedank graag almal wat my deur hierdie reis ondersteun het, wat in my geglo en my deur die moeilike tye aangemoedig het. Veral my vrou Heidi Meuwesen wat altyd my behoeftes voor hare gestel het, ek is altyd lief vir jou.
“Ek is ‘n groot dank verskuldig aan die hele Suid-Afrikaanse boogskietspan wat deel was van ons reisgroep was. Julle is die beste.”
[email protected]