Bobby Sissing kry ’n stadion

Boet Matthews
Dit is hoede af en kofias op vir die Sissing-familie van Khomasdal wat gesorg het dat hul pa, oupa en oupagrootjie se nalatenskap vir altyd onthou sal word.
Die Khomasdal-stadion is vandeesweek amptelik vernoem na Bobby Sissing, alombekend vir sy insette in die gemeenskap en om potensiaal in sportkringe te identifiseer.
Sissing was ook bekend as politikus en as een van Namibië se voorste vryheidsvegters. Sy vrou, Anna, is bekend in netbalkringe, terwyl sy jongste seun Wasim ná sy pa se dood in Julie 2021 in sy sport- en politieke spore gevolg het. Wasim beskryf sy pa as ’n “mense-mens” wat baie harte geraak het.
“Hy het laat aande die doelhokke op die sokkerveld gesweis en alles wat stukkend was op sy manier reggemaak,” vertel Wasim.
“Ek en my suster Yulene het besluit om die bul by die horings te pak en met die hulp van die ander susters en broers het ons die wiel aan die rol gesit tot by die voordeur van die munisipale kantoor! Ons het reguit gepraat en wou weet of daar ’n moontlikheid is dat die sokkerstadion na ons pa vernoem kan word.”
Volgens Wasim het Yulene en haar dogter Kylie wat “regtig ’n steunpilaar was wat nie handdoek ingooi nie”, toe al die afgelope twee jaar reeds vir Stad Windhoek vir goedkeuring gewag. “Glo my, dit was ook nie ’n maklike taak nie!”
Maar verlede week kry die Sissing-familie uiteindelik die oproep van die munisipaliteit waarop hulle gewag het.
Hul aansoek is goedgekeur en die besluit is geneem om die sportveld na pa Bobby Sissing te vernoem.
“Jy moes daar gewees het om die blydskap op ons gesigte te sien! My pa is beloon vir sy harde werk. Die talentvolle spelers wat hy uit Suid-Afrika gebring het om hul potensiaal hier in Namibië bloot te stel, het ook van hulle laat hoor. Ja, of mense dit wil erken of nie, Bobby Sissing was ’n legende op sy eie.”
Om die Khomasdal-stadion na Bobby Sissing te vernoem, was sy beloning vir getroue en harde werk wat sy eer was, het Wasim op sy beurt gesê.
“Ons is op ons knieë en bid dat die gemeenskap hul samewerking sal gee dat ons saam die herinneringe van die gloriedae op die Khomasdal-stadion terug kan bring,” is Anna se wens.