Draf of stap deur Avis se bos

Die tweede byeenkoms van die Standard Bank Xtrail Winterreeks word Saterdagoggend by Avisdam aangebied.
Die natuurskoon van Namibië en die uitgestrekte gebiede wat geskik is vir roetedraf in die natuur lok voortdurend meer mense na dié toeganklike sport.
Die 2022 Standard Bank Xtrail-reeks het in Junie op die plaas Godeis afgeskop. Die derde en laaste reeksbyeenkoms, The Dunes Xtrail, vind op 17 September op Swakopmund plaas.
Deelnemers kan môre kies tussen ’n 7 km of 16 km roete, wat beide gestap óf gehardloop kan word.
OTB Sport sê: “Die Avisdam is nog relatief vol, so die 7 km-roete sal een steil klim insluit om bo die watervlak te kom. Die verhewe posisie bied ’n wonderlike uitsig oor die dam. Beide die 7 km en 16 km roetes is ’n kombinasie van tweespoor- of enkelspoorpaadjies, met steil klimme tussen die koppies.
“Die 16 km-roete verlaat die Avisdam-gebied en deurkruis die plase en koppies. Van die hoogste punt af sal deelnemers ’n besondere uitsig oor Windhoek hê. Van daar daal die roete terug na Avisdam in paadjies wat deur beeste of wild uitgetrap is.
“Die goeie reënseisoen het die gras hoog laat groei. Al word die gras gesny, raai ons deelnemers aan om geskikte skoene te dra. Dis belangrik om die grashalms, stokkies en dorings uit te hou, asook ’n beter greep op los gruis te kry.
“Die roetes is veldwedloop op sy beste. Baie dankie aan Standard Bank vir die borgskap van die Winterreeks sedert 2016 en die ontwikkeling van roetes in die land.”
Die wedloop sal by Eagles Boma langs Avisdam begin en eindig. Deur die oggend word warmdrankies, roosterbroodjies, pannekoek en drinkgoed aan deelnemers en ondersteuners verkoop.
Die 16 km-deelnemers begin om 08:15 en die 7 km-groep 15 minute later. Die spertyd is 11:30 en die prysuitdeling omstreeks 11:45.
Alle besonderhede is aanlyn by www.otbsport.com beskikbaar. Laat inskrywings het gister gesluit.