Toerimse ministerie kap terug
Sê Ombudsman verstaan nie ‘situasie op die grond nie’
In 'n onlangse verklaring het die Ombudsman gesê die regering fokus op 'teoriebewaring' en plaas toerisme voor plaaslike inwoners se lewens.
Die ministerie van die omgewing en toerisme het sy ontsteltenis uitgespreek oor opmerkings wat deur Ombudsman Basilius Dyakugha gemaak is met betrekking tot mens-wild-konflik in Namibië.Die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, het gesê dit is veral teleurstellend dat die ministerie nie deur die kantoor van die Ombudsman genader is om ’n volledige begrip van die saak te kry nie.
In ’n onlangse verklaring het Dyakugha gesê die regering fokus op “teoriebewaring" en plaas toerisme voor plaaslike inwoners se lewens, terwyl hulle nie konkrete maatreëls ingestel het om mens-wild-konflik in die Bwabwata Nasionale Park aan te spreek nie.
Hy het gesê die lynministerie moet meer doen om menselewens te beskerm.
Dyakugha het gesê die menslike bevolking wat in en om die park woon, het oor die afgelope 30 jaar toegeneem, en dit is ’n groot uitdaging dat mense en diere om natuurlike hulpbronne meeding. Die ministerie moet dus ophou om op ‘papier’ of ‘teoriebewaring’ te konsentreer, want dit ignoreer die behoeftes van mense wat in daardie gebiede woon.
Tasbare voordele
Muyunda het geantwoord dat die implementering van innoverende bewaringstrategieë tot ’n toename in wildgetalle in nasionale parke en kommunale gebiede gelei het. “Dit het tasbare voordele meegebring vir gemeenskappe wat met wild leef in terme van werkskepping, inkomste-generering en infrastruktuurontwikkeling, onder andere.”
Hy het bygevoeg dat dit onvermydelik ’n koste meebring om saam met wild te leef en die ministerie het ’n toename in die voorkoms van mens-wild konflik opgemerk.
“Om te insinueer dat die ministerie op ‘papier- of teoriebewaring’ konsentreer, is ’n aanduiding dat die Kantoor van die Ombudsman nie in voeling is met die werklikhede op die grond nie.”
Hy het bygevoeg dat altesame 86 bewaringsgebiede en twee gemeenskapsverenigings gestig is om natuurlike hulpbronne te bestuur, volhoubaar te benut en daaruit voordeel te trek.
Gesamentlik het hulle meer as N$47,7 miljoen gegenereer, waarvan N$13,2 miljoen oor die afgelope vyf jaar aan lede se voordele gegaan het. – [email protected]