In die winter se k(l)oue

Henriette Lamprecht
Die koue het oor die naweek sy kloue behoorlik in Namibië ingeslaan.
Van plaas tot dorp (en die hoofstad) en veral in die suide van die land het laat weet die kwik het etlike grade onder vriespunt gedaal.
By Klein-Aus Vista naby Aus het Piet Swiegers ’n welkome 20 mm reën uit sy meter gegooi, met die belofte dat, sou ’n paar millimeter weer val, die omgewing oor ’n paar maande met 'n blommekombers bedek sal wees.
Keetmanshoop en omgewing het ook ’n ligte bui of twee gehad, so ook die omgewing van Grünau en Ai-Ais.
Ryp het plek-plek voorgekom, terwyl heelwat Namibiërs eers gisteroggend ys van ’n motor se vensters moes afskraap.
Van die temperature wat aangemeld is, sluit in -2 °C op Otjiwarongo, -3,8 °C in Suiderhof, -4 °C in Ludwigsdorf, -6 °C tussen Windhoek en Rehoboth, -7 °C in Avis, -7 °C in die Khomas Hochland, -3 °C in Brakwater, -1 °C op Okahandja, Summerdown met -7 °C, Seeis -6 °C, Omitara -7 °C, Steinhausen -8 °C, Hochfeld -3 °C en Kamanjab -3 °C.
Volgens die Namibiese weerkantoor gaan die bibberweer in die binneland oornag en vroegoggend voortduur. In die Suide sal dit vandag gedeeltelik bewolk en baie koud tot matig wees, andersins sonnig en matig tot warm, maar baie warm in die verre noordelike streke. In Aus en Karasburg gaan dit kwik net tot 14 grade Celsius styg. – [email protected]